24 July 2007

Amsterdam - nog steeds, en 'n vinnige besoek aan Rotterdam

So is die avonturier toe weer gewapen met kamera in die hand die strate van Amsterdam in. Vondelpark was regtig 'n belewenis - so 'n oase in die middel van die stad - rustige atmosfeer, maar vol mense - hulle hou piekniek, loop rond, draf daar, gaan stap met hulle honde, ens. Direk langs Vondelpark is die Vondelkerk - nie die mooiste kerkgebou wat ek al gesien het nie - ontwerp deur dieselfde argitek wat die Centraal Station ontwerp het, Cuypers. Die kerk is van 1979 as as kantoorgebou in gebruik.
Die straatorreltjies sien jy gereeld in Amsterdam, met die ouens wat hulle bussies skud. Die straattoneel behoort 'n idee te gee van hoe dit in Amsterdam lyk op 'n naweek - en hierdie gedeelte is so bietjie van die hoofstroom af. Die smal huise is net so bietjie meer as 1.8 meter wyd - seer seker die smalste huis in Amsterdam.
Die foto op Museumplein is geneem vanaf die kant van die Concert gebouw - die Rijksmuseum is aan die regterkant en die van Gogh museum links agter.
Die Rijksmuseum is 'n reusagtige plek, maar hulle is tans besig met restourasie, so net 'n gedeelte van die museum is oop - en 'n uur na oopmaaktyd staan die toue reeds by die hekke uit. Daar is ontsettend baie gewerskaf hier in Amsterdam - hulle is besig om te restoureer aan die koninklike paleis, die Stedelijke museum en die Rijksmuseum. Verder is hulle besig om 'n nuwe Metro stasie te bou, so oral is daar 'n gewerskaf.
By die Heineken Brouwerij wou ek sommer aansoek doen vir werk, maar blykbaar het hulle nie nog mense nodig om die bier te proe nie.
Die Begijnhof is nog 'n oase van stilte hier in die besige stad - as jy nie weet waar dit is nie, sal jy dit maklik misloop. Ek gaan nie ingaan op die geskiedenis van die Begijnhof nie - gaan kyk op Wikipedia - soek vir "Begijnhof, Amsterdam" of gaan kyk op hulle webwerf self.
As alles volgens plan verloop skuif ek teen die einde van die maand na Rotterdam. Ter voorbereiding het ek so bietjie daar gaan rondloop. 'n Moderne stad met heelparty indrukwekkende geboue - en die grootste houerhawe in die wêreld. Die Erasmusbrug op die foto was vir my nogal heel indrukwekkend. Volgende uitgawes sal meer oor Rotterdam inhê.
Kyk bietjie mooi na die geskryf op die bus - maak nie saak waar jy gaan nie, die Suid-Afrikaners is daar.



















VondelparkDie smalste huis in Amsterdam?




StraatorreltjieUitstalling by van Gogh museum




Vondelkerk se ingangVondelkerk




KattenkabinetGewel van die Concert Gebouw




MuseumpleinRijksmuseum




Eramusbrug in RotterdamBegijnhof se ingang




Bus - kyk die opskrifHeinken Brouwerij




BegijnhofStraat in Amsterdam

No comments: